“Celebration of Discipline”: Inleiding – Slawerny van geïntegreerde gewoontes


Ons is so gewoond daaraan om te dink aan sonde as individuele aksies van ongehoorsaamheid aan God. Dit is egter net gedeeltelik waar; die Bybel gaan egter veel verder as dit. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

In Romeine beskryf Paulus sondes gereeld as ‘n toestand wat die menslike ras plaag (‘n voorbeeld hiervan word gevind in Romeine 3:9-18). Sonde as ‘n toestand werk tot in die “liggaamlike dele” – die geïntegreerde gewoontes van die liggaam (sien Romeine 7:5) (hierdie “liggaamlike dele” is ‘n vrylike vertaling uit sommige Engelse vertalings. In die Afrikaanse vertaling word daar gepraat van die “sondige lewensbestaan” en die “sondige hartstogte” wat in ons lewens bestaan het). Daar is geen slawerny wat vergelyk kan word met die slawerny van geïntegreerde gewoontes van sondes nie. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

In Jesaja 57:20 (1983 Vertaling) lees ons die volgende: “Maar die goddeloses is soos die ontstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot” Die see tree op ‘n natuurlike wyse op wanneer dit slyk en modder uit stoot; daar is niks spesiaal nodig om dit te doen nie. Dit is ook waar van ons as ons onder die toestand van sonde is. Die natuurlike bewegings van ons lewens is om slyk en modder voort te bring wanneer ons onder die toestand van sonde verkeer. Sonde is dan deel van die interne struktuur van ons lewens. Geen spesiale poging is nodig om dit voort te bring nie. Dit is dan nie verbasend dat ons vasgevang voel nie! (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

Die “normale” manier waarop ons hierdie geïtegreerde sonde probeer hanteer, is om ‘n frontale aanval te loods. Ons maak staat op wilskrag en determinasie. Ons neem ons voor om nooit weer dit te doen wat ons beleef as ‘n problee – woede, vrees, bitterheid, vraatsug, trots, wellus, dwelmmisbruik – nie. Ons bid daarteen, ons veg daarteen, en ons stel ons wil daarteen. Die stryd is egter verniet. Weereens bevind ons onsself moreel bankrot. Soms vind ons dat ons so trots is op ons eksterne geregtigheid, dat “wit grafte” ‘n ligte beskrywing is vir ons toestand. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

Heini Arnold het op ‘n stadium die volgende geskryf: “We … want to make it quite clear that we cannot free and purify our own heart by exerting our own ‘will’.” (Foster het hierdie aangehaal uit sy boek “Freedom from Sinful Thoughts: Christ Alone Breaks the Curse”) (Vrylik vertaal: Ons wild it duidelik stel dat ons nie ons eie hart kan bevry en reinig deur wilskrag te beoefen nie).

In Kolossense 2:20-23 (1983 Vertaling) gee Paulus ‘n lys van uiterlike vorme wat mense doen om sonde te beheer: “‘Hieraan mag jy nie vat nie!’ ‘Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!’ ‘Daaraan mag jy nie raak nie!’”. Hy voeg by dat hierdie leerstellings wel “‘n skyn van wysheid het met hulle selfgemaakte godsdiens”. Foster beskryf die laaste deel as “will worship” (die Engelse term klink beter as enige Afrikaanse term). “Will worship” (vrylik vertaal as “wilskrag-aanbidding”)is ‘n baie beskrywende frase vir die meeste van ons se lewens. Die oomblik wat ons dink of voel dat ons suksesvol kan wees en oorwinning oor ons sondes kan behaal deur ons wilskrag alleen, is die oomblik wat ons ons wilskrag aanbid. Dit is ironies dat Paulus ons mees strawwe pogings in die geestelike pad “afgodery” en “will worship” noem. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

Ons moet besef dat wilskrag nooit suksesvol sal wees om die diep geïntegreerde gewoontes van sonde te hanteer nie.

Emmet Fox het op ‘n stadium geskryf: “As soon as you resist mentally any undesirable or unwanted circumstance, you thereby endow it with more power – power which it will use against you, and you will have depleted your own resources to that exact extent.” Heini Arnold het ook die volgende gesktyf: “As long as we think we can save ourselves by our own will power, we will only make the evil in us stronger than ever.” (Foster het hierdie twee aanhalings geneem uit die boek “Freedom from Sinful Thoughts: Christ Alone Breaks the Curse”). Baie van die noemenswaardige skrywers, insluitende St. Augustine, St. Francis van Asissi, Johannes Calvyn en John Wesley het hierdie selfde waarheid beleef. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

“Wilskrag-aanbidding” kan dalk vir ‘n tydperk suksesvol lyk – ten minste in die uiterlike voorkoms. In die krake van ons lewens sal ons diep innerlike toestand egter uiteindelik geopenbaar word. In Matteus 12:34-36, beskryf Jesus hierdie toestand, wanneer Hy praat van die uiterlike geregtigheid van die Fariseërs. “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. … Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mens sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag.”. Deur pure wilskrag kan mense ‘n goeie skyn gee vir ‘n ruk lank. Vroeër of later sal daar egter ‘n onbeheersde oomblik wees, wanneer die sorglose woord sal uitglip, om die ware toestand van die hart te wys. (Foster, 1989 (Eerste uitgawe: 1980))

In die volgende inskrywing, gaan ons sien hoe die Geestelike Dissiplines ons ontvanklik maak vir die regverdigheid van God. Daar is twee gevare waarteen ons moet waak, en ons sal daarna kyk in die volgende inskrywing.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s